Kylie slaan Vegas-kontrak los

Die Australiese pop-legende Kylie Minogue het die jongste ster geword om ‘n reeks vertonings in Las Vegas los te slaan. Die aankondiging volg op die hakke van die sukses van haar dansliedjie Padam Padam en voor die vrystelling op 22 September van haar langverwagte album Tension. Minogue wat as die prinses van pop gedoop is, het wêreldwyd meer as 80-miljoen eksemplare verkoop en ‘n Grammy en drie Brit-toekennings ingepalm. Die 55-jarige se vertonings begin op 3 November en kaartjieverkope begin vanaf die negende van volgende maand.