Bouvereistes kniehalter laekostebehuising – GIPF-hoof

Die Staatsinstellings Pensioenfonds sê die huidige bouvereistes deur plaaslike owerhede maak die lewering van laekostebehuising in Namibië uitdagend. Die fonds se uittredende uitvoerende hoof, David Nuyoma sê die vereistes ry pogings in die wiele om die land se behuisingsagterstand te verminder. Hy sê net sekere materiale en standaarde word deur plaaslike owerhede toegelaat en dit het ‘n impak op die algehele koste en die huidige bouvereistes maak nie voorsiening vir alternatiewe boumateriaal vir huisbou nie. Volgens die GIPF-hoof kos die goedkoopste huise in landelike gebiede 400 000 Namibiese dollar. Nuyoma sê verskeie modelle en behuisings-materiaal moet aanvaar en gebruik word om die koste van behuisingsvoorsiening af te bring.