Cyril bevestig Putin woon nie Brics-beraad by

President Cyril Ramaphosa het aangekondig sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, sal nie volgende maand se 15de Brics-beraad in Suid-Afrika bywoon nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Putin se besluit is deur ‘n wedersydse ooreenkoms bereik. Die minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, sal Rusland verteenwoordig. Dit sal die eerste Brics-beraad wees wat regstreeks aangebied word sedert die Covid-19pandemie. Magwenya sê Ramaphosa doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om hul gasvryheid te toon aan die afgevaardigdes wat van verskeie wêrelddele kom.