Internasionale Strafhof ondersoek massagraf in Sudan
‘n Aanklaer van die Internasionale Strafhof het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ingelig dat sy kantoor ‘n massagraf in Sudan se Wes-Darfoer-streek ondersoek. Die VN het bevestig die liggame van minstens 87 mense is in die graf naby die stad El Geneina gevind. Talle van die slagoffers is vermoedelik lede van die etniese Masalit-gemeenskap. Volgens die VN is daar geloofwaardige inligting dat die paramilitêre groep, die RSF, vir die massagraf verantwoordelik is. Die RSF is sedert April in gevegte met Sudan se weermag betrokke. ‘n Aanklaer van die Strafhof, Karim Khan sê die oortreders sal aanspreeklik gehou word.