Vermeende brandstigter van betoging in hof  

’n Verdagte sal na verwagting vandag in die Motherwell-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn op aanklagte van openbare geweld, beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en opsetlike saakbeskadiging. Dit volg nadat twee vragmotors Donderdag tydens ‘n dienslewerings-betoging langs die M17 Addo-pad aan die brand gesteek is. Polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, sê ontevrede inwoners van Nomakanjane en Ramaphosa informele nedersettings het die pad versper en vragmotors met klippe bestook. Sy sê die 29-jarige man is gearresteer omdat hy een van die vragmotors aan die brand gesteek het.