Cyril waarsku teen uitbrand van vragmotors
President Cyril Ramaphosa het ‘n ernstige waarskuwing gerig aan diegene wat betrokke is by die uitbrand van vragmotors en sê hulle sal met die volle mag van die wet te doen kry. Minstens 21 vragmotors is die afgelope vier dae in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo uitgebrand. Ramaphosa het by die voorstelling-seremonie van kadette by die Nasionale Jeugdienskorps in Nigel, oos van Johannesburg, gepraat, en gesê die aanvalle is teen Suid-Afrika se kultuur van respek vir die wet en die Grondwet.