Gebied om vulkaan in Ysland afgesper

Die polisie in Ysland het die gebied om ‘n vulkaan afgesper om inwoners van die Reykjanes-skiereiland te beskerm teen giftige gas wat weens die vulkaan-uitbarsting in die lug is. Inwoners van die gebied is ook aangeraai om huise se vensters toe te hou en enige ventilasie-toestelle af te skakel. Die polisie sê die gebied om die vulkaan is afgesper omdat wetenskaplikes meen dat die gasbesoedeling om die vulkaan sal opbou weens die afwesigheid van wind. Die uitbarsting het plaasgevind ná intense seismiese aktiwiteit in die gebied. Dit was egter nie ‘n hewige uitbarsting wat groot hoeveelhede as veroorsaak nie.