Nóg twee vragmotors by Empangeni aan die brand gesteek

Die GOOD Party doen ‘n beroep op die minister van polisie, Bheki Cele, en die minister van vervoer, Lydia Sindisiwe Chikunga, om dringend ‘n langtermyn oplossing te vind vir die bedreiging teen vragmotorbestuurders op Suid-Afrika se paaie. Die polisie in Empangeni het met ‘n ondersoek begin nadat twee vragmotors Maandagaand aan die brand gesteek is waar hulle in ‘n lang ry gestaan en wag het. Dit volg na vyf vragmotors in Waterval-Boven, Mpumalanga, aan die brand gesteek en ses ander in Van Reenenspas in KwaZulu-Natal. Die GOOD Party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dis onaanvaarbaar dat hierdie dade van sabotasie en geweld voortgaan om die land se reeds kwesbare ekonomie gyselaar te hou.