Elton John sê vaarwel in Swede
Die legendariese sanger, liedjieskrywer en pianis, Elton John het sy aanhangers tydens sy laaste toerkonsert in Stockholm, Swede gegroet. Die vyfmalige Grammy-wenner se Farewell Yellow Brick Road-toer het in 2018 begin en die aanvanklike bedoeling was dat dit in 2021 sou eindig, maar dis weens die Covid-pandemie uitgestel. Daar was meer as 300 konserte tydens die toer en meer as ses miljoen ondersteuners wêreldwyd het hulle bygewoon. Die 76-jarige het aan die gehoor in die Tele2 Arena in Swede gesê hy het 52 jaar van pure vreugde beleef deur musiek te speel.