Diewe teiken weer koperpype by Keetmanshoop-staatshospitaal
Die Keetmanshoop-staatshospitaal se bestuur het die diefstal van koperpype wat die toevoer van suurstof by die gesondheidsfasiliteit benadeel het, veroordeel. Dr. Ife Offune, die hospitaal se hoof mediese beampte, sê dit was die tweede keer dat diewe die koperpype gesteel het. ‘n Klag is by die Namibiese polisie aanhangig gemaak. Hy sê voorheen is die koperpype wat water na die hospitaal lewer, ook gesteel. Nou is dit die koperpype wat suurstof lewer geteiken, wat kritieke dienslewering aansienlik beïnvloed. Dr. Offune sê teaterprosedures word tot noodgevalle beperk omdat voldoende suurstof nie gelewer kan word nie. Die hospitaal maak nou staat op mobiele suurstofsilinders om kritieke voorraad aan pasiënte in sale te lewer.