Zim: EU stuur volgende week eerste waarnemers

Die Europese Unie sal die eerste wees om volgende week ‘n waarnemerspan na Zimbabwe te stuur, voor die 23 Augustus-verkiesing, wat ook waargeneem sal word deur die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en hul geopolitieke teëstanders Rusland, Belarus en China. Jobst von Kirchmann van die EU het Vrydag in Harare met Zimbabwe se waarnemende minister van buitelandse sake en internasionale handel, Amon Murwira, vergader en die twee het ‘n memorandum van verstandhouding voor die verkiesing onderteken. Volgens Murwira moet die EU en internasionale waarnemers “die verkiesingsproses waarneem, nie monitor nie”. Kirchmann het in reaksie aan die media gesê dat die EU-gesant die EU-gedragskode, sowel as die Zimbabwiese wetgewing, sal volg.