Die As: Duckett gee sprankie hoop vir Engeland

Mitchell Starc van Australië het gister op Lord’s gesorg vir ‘n ineenstorting deur Engeland, voor ‘n omstrede uitkoms vir Ben Duckett terwyl die gashere hulle poging voortgesit het vir ‘n merkwaardige oorwinning in die tweede toets om die As. Engeland was met uitskeityd op die vierde dag op 114 vir vier, met nog 257 lopies nodig om die teiken van 371 te bereik. Die hotklou aanvangskolwer Duckett, wat in die eerste beurt 98 aangeteken het, was op ‘n onoorwonne 50, en kaptein Ben Stokes het 29 gehad. Die meeste wat enige span egter nog aangeteken het vir ‘n oorwinning in die vierde beurt van ‘n toets op Lord’s, was die Wes-Indiese Eilande se 344 vir een in  1984.