Reuse-ontploffing ruk Parys

Nooddienswerkers in Frankryk is op soek na twee mense wat steeds vermis word, ná ‘n reuse-ontploffing in die historiese deel van sentraal Parys. Minstens 37 mense is beseer waarvan vier ernstig is. Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bepaal nie. ‘n Gebou wat ‘n internasionale ontwerpskool en die hoofkwartier van die Katolieke onderwysstelsel gehuisves het, het ineengestort tydens die brand wat uitgebreek het ná ‘n ontploffing laat Woensdag namiddag. Die gebou is langsaan die voormalige Val-de-Grace militêre hospitaal. Sowat 70 brandweerwaens en 270 brandbestryders het gehelp om die brand te blus. Volgens berigte was daar ‘n sterk gasreuk voor die ontploffing.