Gesprekke tussen ReconAfrica en Namcor duur voort oor aandele

Namcor en die Kanadese olie-en gasmaatskappy ReconAfrica bespreek steeds Namcor se planne om vyf persent van sy aandele in sy gesamentlike olie-eksplorasieprojek in die Kavango-bekken te verkoop. Namcor het tans ‘n 10 persent-belange in die projek en ReconAfrica die res. In Februarie verlede jaar het ReconAfrica gesê hy het ‘n brief van voorneme met Namcor aangegaan om die helfte van hul 10 persent-belang in die petroleum-eksplorasie-lisensie in die Kavango-bekken te verkry. ReconAfrica sê die partye het nog nie die transaksie ingevolge die definitiewe koop-en-verkoop-ooreenkoms voltooi nie, maar gesprekke is steeds aan die gang.