Sikloon Biparjoy op pad na Indië, Pakistan

Tienduisende mense in Indië en Pakistan moes hul huise ontruim terwyl ‘n hewige sikloon na die lande onderweg is. Sewe mense is reeds in Indië dood te midde van swaar reën, sterk wind en rowwe seetoestande. Die sikloon Biparjoy sal na verwagting môreaand die Kutch-distrik in Indië se Gujarat-staat tref. Die regering van Gujarat sê 47 000 mense in agt kus-distrikte is na veiligheid geneem, treindienste is gestaak en werksaamhede by die Kandla- en Mundra-hawens is opgeskort. In Pakistan sal die storm na verwagting die kus van die Sindh-provinsie tref en dele van die stad Karachi raak. Rampbestuur-owerhede het sowat 62 000 mense van kusgebiede in Sindh na veiliger plekke verskuif.