Namibië wil brandstof by Indië koop, dis goedkoop

Samesprekings tussen Namibië en Indië oor die aankoop van goedkoop brandstof duur voort. The Brief berig dat die Namibiese ambassadeur in Indië, Gabriel Sinimbo, bevestig dat die kwessie bespreek word en dat dit tot dusver belowend is. Volgens Sinimbo is die belangrikste aspek om olie teen ‘n bekostigbare prys aan te koop. Woordvoerder by die ministerie van myne en energie Andreas Simon het ook bevestig die samesprekings is aan die gang. Hy sê vanaf 2021 tot op hede, het die regering se invoer van brandstof 3,6 miljard liter bereik. Namibië verkry tans brandstof op die internasionale mark, van onder meer Singapoer, Katar, Verenigde Arabiese Emirate, Noorweë, Verenigde Koninkryk, Nigerië en Ghana. Intussen word daar berig dat Indië die afgelope jaar na vore getree as ‘n top-koper van Russiese olie ná Moskou se volskaalse inval in die Oekraïne op 24 Februarie 2022. Toegang tot goedkoop Russiese ruolie het produksie en wins by Indiese raffinaderye ‘n hupstoot gegee, wat hulle in staat stel het om verfynde produkte mededingend uit te voer na Europa.