100 sterf in Nigerië toe boot omslaan

Die soektog na oorlewendes is verskerp nadat sowat 100 mense dood is toe ’n boot in die noorde van Nigerië omgeslaan het. Volgens berigte was die slagoffers, insluitend kinders, op pad terug van ‘n oornag huwelikseremonie in die dorpie Egboti toe die ongeluk Maandag plaasgevind het. Die vaartuig het van die Niger-staat na die Kwara-staat gereis. Bootongelukke is algemeen in baie afgeleë gemeenskappe regoor Nigerië waar meestal plaaslik vervaardigde vaartuie vir vervoer gebruik word. Net verlede maand is 14 mense dood nadat ‘n boot in die nabygeleë Sokoto-staat omgeslaan het.