Kommer oor armoede, eksplorasiewerk in Kavango

Die ondersoek deur die Nasionale Beplanningskommissie na armoede in die land toon die Kavango Wes-streek gaan gebuk onder 80 persent armoede. Die Multi-dimensionele Armoedeverslag van 2021 het ondersoek ingestel na vlakke van armoede in al 14 streke in die land. Die uitdagings in Kavango Wes, en so ook Kavango Oos is reeds ‘n geruime tyd in die nuus en die gebied is bekend vir sy lae ontwikkelingsvlakke. Die bekende politieke ontleder, professor Joseph Diescho, kritiseer die regering herhaaldelik oor sy hantering van die gebied. Kenners meen ook die gebied se inwoners is gemarginaliseer en daar is kommer oor die boorwerk wat in die gebied deur ReconAfrica uitgevoer word. Sou olie in die gebied ontdek word, is daar ‘n verhoogde risiko vir burgerlike geweld. Die inwoners staan reeds die eksplorasie-werk teen.