Shiimi en NamPower voer vandag gesprek

Die Namibiese minister van openbare ondernemings Ipumbu Shiimi sal volgens berigte vandag met NamPower se bestuur en raad vergader oor hoekom die maatskappy nie die opdrag van die kabinet, om nie beurtkrag toe te pas nie, nagekom het nie. NamPower het in ‘n mediaverklaring bevestig dat die maatskappy wel die kommunikasie oor die kabinetsopdrag ontvang het maar, na behoorlike oorweging het die raad egter eenparig besluit om sy finansiële verantwoordelikhede uit te oefen. Die raad en bestuur het besluit om voort te gaan met grootskaalse kragonderbrekings omdat dit in die beste belang van die finansiële volhoubaarheid van die maatskappy en vir volhoubare kragvoorsiening in die land is. Dorpsrade in die Karas- en Hardap-streke is die hardste getref en so ook dorpe in die Noorde onderhewig aan Nored, wat intussen opgelos is. Die maatskappy se raadsvoorsitter Daniel Motinga het aan plaaslike media bevestig dat daar binnekort ‘n opdatering op die situasie uitgereik sal word.