NamPower: Kabinet het blykbaar nee gesê vir beurtkrag

Dit blyk asof NamPower die opdrag van die kabinet geïgnoreer het met verskeie dorpe in die Suide, sowel as kliënte van Nored in die Noorde, wat Maandagaand hul eerste beurtkrag tussen vyf-uur en nege-uur ervaar het, as gevolg van uitstaande skuld aan NamPower. Die kragvoorsiener waarsku reeds meer as ‘n maand dat betaling voor 31 Mei gemaak moet word of beurtkrag, met ‘n ekstra dag by vir elke week daarna wat die rekening nie vereffen word nie, vanaf 5 Junie toegepas sal word. Luidens ‘n brief, gedateer vir 5 Junie van Ipumbu Shiimi, die minister van staatsondernemings, het die kabinet gesê dat NamPower nie krag moet afskakel voor konsultasies tussen die plaaslike owerheid, die finansministerie en die ministerie van stedelike ontwikkeling nie voltooi is nie. Dit wil ook voorkom asof Nored Maandagoggend nege-uur net meer as 20,3 miljoen Namibiese dollar aan NamPower betaal het.