SA Menseregte-kommissie sluit Ashwin Willemse se saak af

Die Suid-Afrikaanse Menseregte-kommissie het die saak gesluit van die voormalige Springbok-speler, Ashwin Willemse, wat sy mede-kommentators, Nick Mallett en Naas Botha, van rassisme beskuldig het. Willemse het in 2018 tydens ʼn regstreekse uitsending op SuperSport uit die ateljee gestorm, maar die ander twee is na ʼn onafhanklike ondersoek van alle skuld onthef. Willemse het die aangeleentheid daarna by die Menseregte-kommissie aanhangig gemaak, maar hulle kon nie voortgaan nie omdat hy nie vrae beantwoord het nie. Volgens Botha het hy lankal aanbeweeg terwyl Mallett nie wou kommentaar lewer nie.