Alweendo se aanmerkings laat tuimel Aussie-mynreus se aandele

Australië se Paladin Energy, wat Langer Heinrich-myn besit, se aandele het met 24 persent getuimel na die minister van myne en energie Tom Alweendo aangekondig het dat die regering ‘n groter aandeel in plaaslike mynbedrywighede wil hê. Volgens Reuters het Alweendo melding gemaak van Australiese maatskappye wat in Namibië bedrywighede het. Alweendo het voorheen ook melding hiervan gemaak en terwyl daar geen bepaalde persentasie is nie het hy gesê dit kan 10 of 20 persent wees. Alweendo sê plaaslike eienaarskap moet by die regering begin en dat hy die aandeel gratis moet ontvang. Bannerman Energy, wat Etango Uranium besit, het met 7,4 persent gedaal en Deep Yellow, wat by Tumas uraan ontgin, het met 13,4 persent gedaal. Paladin het aan internasionale media gesê dat hy nie bewus is van enige wetgewing wat die eienaarskap moontlik maak nie. Sy aandeel het vandag met 11 persent verbeter.