Rwandese volksmoord-voortvlugtige in Wes-Kaap vasgetrek

’n Rwandese voortvlugtige wat gesoek word in verband met die volksmoord van 1994 is in die Wes-Kaap aangekeer nadat hy dekades lank die gereg ontwyk het. ‘n Suid-Afrikaanse operasionele taakspan het die 61-jarige Fulgence Kayishema met ʼn Rooi Kennisgewing van Interpol in die Paarl in hegtenis geneem. Volgens die lasbrief was Kayishema ‘n polisie-inspekteur in Rwanda wat glo ‘n beduidende rol gespeel het in die beplanning en uitvoering van volksmoord waarin honderdduisende lede van minderheidsgroepe vermoor is. Hy word gesoek vir volksmoord, sameswering om volksmoord te pleeg en misdade teen die mensdom. Hy sal na verwagting vandag in die hof verskyn.