Ses burgerlikes in Pakistanse militêre hof verhoor
Ses burgerlikes gaan in ‘n militêre hof in Pakistan verhoor word vir hul beweerde betrokkenheid in die onlangse gewelddadige protesoptrede in die land. Ondersteuners van die voormalige eerste minister, Imran Khan, het die strate ingevaar nadat hy twee weke gelede op aanklagte van korrupsie in hegtenis geneem is. Die weermag in Pakistan het dit sedertdien duidelik gemaak dat hulle streng gaan optree teen diegene wat by die betogings betrokke was. ‘n Hofbevel is deur die teen-terreur hof uitgereik en ses burgerlikes aan die weermag oorhandig vir verhoor. Die VN-hoof van menseregte Volker Turk sê die gebruik van militêre howe om burgerlikes te verhoor, is kommerwekkend.