Kunspolisie vind 3 500 gesteelde antieke artefakte
Sestien mense is in Italië in hegtenis geneem in verband met die diefstal van antieke Griekse en Romeinse artefakte. Die Italiaanse polisie, die Carabinieri, sê hulle het ‘n netwerk van roekelose argeologiese plunderaars en smokkelaars oopgevlek. Nog vyf verdagtes het weggekom. Die polisie het meer as 3 500 items teruggevind, wat muntstukke uit die antieke Griekse en Romeinse tye insluit, asook juwele, bekers en ander ware. Die artefakte dateer uit die tydperk vanaf 400 voor Christus tot 300 na Christus. Verlede jaar is ‘n “Museum van Teruggevonde Kuns” in Rome geopen waar kunswerke uitgestal word wat gesteel en deur die kunspolisie teruggevind is.