Kabinet keur groen waterstof-ooreenkoms met Hyphen goed
Die Namibiese kabinet het die vandag die ooreenkoms met Hyphen Hydrogen Energy goedgekeur vir die ontwikkeling, implementering en bedryf van die beplande groenwaterstof-projek. Die baanbreker-uitvoerbaarheids- en implementerings-ooreenkoms sal na verwagting Vrydag amptelik onderteken word. Dit beheer die proses waarvolgens Namibië se eerste groenwaterstof-projek gerealiseer sal word, as ‘n eerste stap in die implementering van die regering se breër groenwaterstof-strategie. Die ekonomiese impak van hierdie projek op Namibië is aansienlik en word beraam op 170 miljard Namibiese dollar. By volskaalse ontwikkeling, wat voor die einde van die dekade verwag word, sal die projek jaarliks twee miljoen ton groen-ammoniak vir streeks- en wêreldmarkte produseer.