Verslag oor beleggings in energie-sektor bekragtig
Die minister van myne en energie Tom Alweendo het Energy Invest: Namibia 2023, die amptelike beleggings-verslag vir Namibië se gas-, petroleum-, krag- en mynbousektore, amptelik bekragtig. Die verslag sal dien as ‘n omvattende beleggingsgids tot Namibië se hulpbron- en energie-potensiaal met eerstehandse ontleding en navorsing. Die verslag volg na aanleiding van ‘n reeks geskiedkundige ontdekkings in die Oranje-bekken die afgelope jaar, uitgebreide hernubare sektor-ontwikkelings, veral op die gebied van groen-waterstof, en die konstruksie van grootskaalse krag-opwekkingsprojekte. Namibië het beleggings van verskeie internasionale firmas gelok, soos onder meer TotalEnergies, Shell, ReconAfrica, ExxonMobil en Chevron.