Plaaslike suiwelproduksie vertoon beter
Die Namibiese Landbou-unie het produksiewaardes vir verlede jaar bereken. Volgens die unie het die houtskoolsektor ‘n aansienlike waardetoename, 20,5 persent, beleef, danksy ‘n 9,5 persent groei in tonnemaat sowel as ‘n 10 persent styging in pryse. Melkproduksie het van 23,9 miljoen liter in 2018 tot 15 miljoen liter in 2021 gedaal, maar die unie sê die sektor het verlede jaar gestabiliseer met ’n toename in volume van sowat 3,8 persent vanaf die 2021-syfers. Boonop het die melkprodusenteprys met 1,4 persent gestyg, wat produksiewaarde met 5,3 persent opgestoot het. Daar was onlangs groot kommer oor Namibië se suiwelsektor met talle produsente wat tou opgegooi het, veral met die onbeperkte invoere vanuit Suid-Afrika.