Skepper van ‘We’re Sorry’ kom na vore
Namibia Fact Check sê die persoon wat verantwoordelik is vir die ‘We’re Sorry’ plasing wat gelyk het asof die Yslandse vismaatskappy Samherji dit geplaas het na die Fishrot-skandaal, het kontak gemaak. Namibia Fact Check het vroeër bekend gemaak dat die plasing nie afkomstig van Samherji in Ysland was nie. ‘n finale jaar student in fynkuns in Ysland, Oddur Eysteinn Friðriksson, sê dit het deel gevorm van sy studies en sal ook uitgestal word in Reykjavík. Hy sê die plasing verteenwoordig die spyt wat Yslanders het oor die plundering van Namibië se visbronne, sowel as die werksverliese wat dit veroorsaak het. Hy voeg by dat Namibiërs ‘n apologie verdien en dat Yslanders saam staan en die skandaal ten sterkste veroordeel.