Groot water-uitdagings op Opuwo

Plaaslike media berig dat Opuwo 147 miljoen Namibiese dollar benodig om sy water-infrastruktuur op te knap en om ‘n behandelings-aanleg op te rig. Op die oomblik beleef die dorp beurtwater met krane wat gedurende die nag toe is. Daar is nie genoeg reservoirs vir die inwoners nie en die probleem duur reeds meer as tien jaar. Die dorpsraad is in gesprek met NamWater om infrastruktuur op te rig en vanjaar is 1,5 miljoen dollar opsy gesit om die bestaande oksidasie-damme te omhein. NamWater het reeds drie bykomende boorgate geboor as ‘n tussentydse maatreël. Maar, uitbreiding op die dorp duur voort met 4 000 erwe wat geïdentifiseer is.