N$15 miljard-projek vir Namibië se paaie beplan

Die Paaie-owerheid het ‘n vyfjaar-geïntegreerde strategiese plan van 15 miljard Namibiese dollar bekendgestel. Die plan poog om die nasionale padnetwerk uit te brei, asook om verskeie grondpaaie op te gradeer na bitumenstandaarde. Volgens die uitvoerende hoof, Conrad Lutombi, sal die  Padfondsadministrasie sowat 10,27 miljard dollar van die totaal voorsien met ‘n bykomende 1,22 miljard dollar wat deur lenings en toekennings bekom sal word en 2,78 miljard dollar wat die regering sal voorsien, tot en met die einde van die 2026-27 boekjaar. Die Padfondsadministrasie het onlangs aangekondig dat hy onder erge finansiële druk is en het daarom begin om ondersoek in te stel na tolhekke. Daar is baie uitdagings, veral met brandstof-doeltreffendheid en die aankoms van elektriese voertuie wat sy volhoubaarheid raak. Die administrasie maak staat op brandstofheffings vir 55 persent van sy inkomste. Hy het onlangs gevra vir ‘n verhoging in die heffings wat tans op 1 dollar 48 per liter staan.