Afrika-ontwikkelingsbank sal help om wit Zim-boere te vergoed
Die Afrika-ontwikkelingsbank beplan om Zimbabwe te help om 67 miljard Namibiese dollar in te samel wat nodig is om wit boere te vergoed wat meer as twee dekades gelede van hul grond afgesit is. Die vergoeding is ‘n voorwaarde wat deur die land se grootste krediteure gestel is. Die bank se president Akinwumi Adesina sê hulle werk tans saam met die minister van finansies om ’n finansiële instrument daarvoor te ontwikkel. Die land se regering het ‘n vierde ronde samesprekings met krediteure gehou oor die amper 324 miljard Namibiese dollar wat hy aan verskeie groot leners skuld.