Tenders nou uit vir Prosopis-produkte
‘n Groot projek vir die bekamping, en benutting van Prosopis sal in die Suide van die land van stapel gestuur word. Orasecom vra vir tenders vir die bemarking en verkope van Prosopis-produkte by die /Ai //Ais-nasionale park, sowel as by Dreihuk, Gibeon en Mariental. Orasecom is die raadgewende liggaam vir die ontwikkeling en benutting van waterhulpbronne in die Oranje-Senqu-rivierbekken. Prosopis is ‘n bekende indringerboom regoor Namibië, veral daar waar waterbronne beskikbaar is. Die Suid-Amerikaanse boomspesie uitkompeteer die kameeldoring en terwyl die boom se peule en hout waardevol is, word hy nie benut nie. Namibië se onvermoë om die spesie te beheer het daartoe gelei dat dit nou in die Kgalagadi-oorgrenspark voorkom omdat die boom die Auob-rivierbed beset het.