LPM behou sy setel in Keetmans

Na al die chaos oor die naweek met die Landless People’s Movement wat die verkiesingskommissie van knoeiery beskuldig het omdat hy duplikaat kieserskaarte uitgereik het, het die party tog sy setel in die landelike kiesafdeling van Keeetmanshoop behou. Sy kandidaat Willem Labuschagne het 1 270 stemme op hom verenig met Swapo se Elias Kharuxas wat 872 ingepalm het. ‘n Onafhanklike kandidaat, Albertus Witbooi het derde gekom met 463 stemme. Die woordvoerder van die party Lifalaza Simataa het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat hulle aanvaarding van die uitslae op die uitslae sal berus en dus, kan dit aangeneem word dat die party die uitslae aanvaar. Die kommissie sê 43,8 persent van die stemgeregtigdes het deelgeneem.