Von Bachdam is net 25,5% vol
Namibiese damme is tans gesamentlik 67,7 persent vol teenoor verlede jaar se 82,6 persent. Kommer heers oor die Von Bachdam wat die hoofstad van water voorsien en slegs 25,5 persent vol is, byna die helfte minder as verlede jaar se stand van 50,1 persent. Die Swakoppoortdam is 70,4 persent vol maar geen water word meer van dié dam en die Omatakodam na Von Bach gepomp nie met die Omatako wat dolleeg is. In die Gobabis-distrik staan damvlakke gesamentlik op 8,4 persent met water wat steeds vanaf die Otjivero-dam na die Tilda- en Daan Viljoen-damme gepomp word.