Mianmaer kondig noodtoestand in Rakhine-staat af

Mianmar se militêre leiers het intussen ‘n noodtoestand in die Rakhine-staat afgekondig nadat die sikloon Mocha groot skade aangerig het. Minstens ses mense is dood en honderde huise, skole en hospitale is vernietig nadat die sikloon Mianmar se kus as ‘n kategorie vyf storm getref het. Plaaslike inwoners sê sowat 90 persent van die staat se hoofstad, Sittwe, is deur die storm beskadig. Kampe vir Rohingya-mense wat deur die voortslepende etniese konflik in die staat ontwortel is, is ook deur die storm vernietig. Die Verenigde Nasies sê weens die gure weer en onderbrekings in telekommunikasie kon die volle omvang van die ramp nog nie bepaal word nie.