Aanklaer-generaal moet beslis oor Heavens Ark-behuisingsaak

Die hofsaak waarin die sakeman Stephan Malan daarvan beskuldig word dat hy ‘n groep van die Heavens Ark-behuisingsorganisasie uit hul grond bedrieg het, is uitgestel vir ‘n beslissing van die kantoor van die aanklaer-generaal. Die saak het vandag vlugtig in die Windhoekse landdroshof voorgekom en is vir die finale keer uitgestel. In reaksie vir Malan het prokureur Sarel Maritz van die regsfirma dr. Weder, Kauta en Hoveka die finale uitstel verwelkom en gesê hy wil hê die saak moet afgehandel word. Die geraakte gemeenskap wat lede is van die organisasie het die beslissing verwelkom en gesê hulle wil bloot hul grond terughê. Die grond is aan die organisasie gegee om laekostebehuising vir sy lede te bou, het die projek-fasiliteerder, James Links gesê.