Stormers is sonder Fourie en Orie 

Die Stormers sal Connacht dalk in die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap sonder twee van sy Springbokke moet aandurf. Die afrigter, John Dobson, sê die flank Deon Fourie se kans om fiks te wees is net 50-persent, en die slot Marvin Orie het ʼn seer skouer na die kwarteind-oorwinning oor die Bulle. Volgens Dobson is hy nie regtig bekommerd oor Orie nie, maar Fourie het tot Vrydag om sy fiksheid te bewys. Afskop op die Kaapstad-stadion is om vier-uur, gevolg deur die tweede halfeindstryd tussen Leinster en Munster in Dublin.