Olifantbevolking van Kaza onder die loep by konferensie oor mens-dier-konflik
Die Namibiese omgewingsministerie se konferensie oor mens-dier-konflik word môre amptelik in die hoofstad deur die adjunk-president Nangolo Mbumba geopen en duur tot Vrydag voort. Van die onderwerpe onder bespreking is die status van die olifantbevolking in die Kavango-Zambezi-oorgrensgebied, Kaza, en asook mens-olifant-konflik in sekere brandpunt-gebiede van die land. Mens-roofdier-konflik sal ook onder die loep kom met verskeie sprekers van navorsingsprojekte van wildehonde, luiperds en jagluiperds wat aan die woord sal wees. Die uitdagings van krokodille en seekoeie in die noordelike riviere, wat die meeste lewens in Namibië eis, sal ook onder bespreking wees, asook die status van visvoorraad in riviere.