NamPower sal beurtkrag toepas vanaf 5 Junie vir wanbetaling

NamPower het weer, nes verlede jaar die tyd, weer gedreig om beurtkrag toe te pas by plaaslike owerhede wat hom geld skuld. Die maatskappy, wat finansieel baie swak presteer het en verliese van 1,2 miljard Namibiese dollar in die vorige boekjaar aangekondig het, sê hy word meer as ‘n miljard dollar geskuld wat teen 31 Mei betaalbaar is. Indien nie, sal beurtkrag van 5 Junie toegepas word met vier ure op een dag vir die eerste week van wanbetaling, en daarna, vier ure op die volgende dag vir die volgende week en so aan. Hy sê Nored, die Cenored-Okahandja gesamentlike onderneming en die Karas-streeksraad word geraak. Die munisipaliteite van Rehoboth, Mariental, Karasburg, en Gobabis is ook ingesluit. Dorpsrade wat geraak word sluit Aranos, Maltahöhe, Lüderitz, Gibeon, Bethanie, Tses, Koës, Leonardville, Berseba, Kalkrand, Stampriet, Gochas, Witvlei en Aroab in. Die Stad Windhoek word ook geraak in verband met Groot Aub en Brakwater.