Shimutwikeni sal weer op 24 Julie vir dronkbestuur verskyn

Die saak teen die plaaslike prokureur Henry Shimutwikeni is tot 24 Julie vir verdere ondersoek uitgestel. Shimutwikeni is die prokureur wat die nuus oor die naweek gehaal het nadat hy vir beweerde dronkbestuur in die hoofstad voorgekeer is maar blykbaar geweier het om te blaas of om ‘n bloedmonster te gee. Die 36-jarige het voor landdros Kandiwapa Nembia verskyn. Hy word ook aangekla van ‘n poging om die polisie met 10 000 Namibiese dollar om te koop om die saak te laat vaar nadat hy gearresteer is. Daar is berig hy het ‘n advokaat geskakel om die geld polisiestasie toe te bring maar, die staat het die klagte laat vaar omdat daar nie genoeg bewyse teen die advokaat is nie. Shimutwikeni is vry op borg van 6 000 dollar wat hy reeds Sondag bekom het.