Schlettwein benadruk Meatco se insolvensie
Die Namibiese landbouminister Calle Schlettwein sê Meatco het die voordeel gehad om ‘n de facto monopolie te wees. Hierdie situasie het verander sedert die markkragte die opening van abattoirs in private besit en beesvleisbemarking-sentiteite moontlik gemaak het. Schlettwein het tydens die ministerie se beplanningswerkswinkel op Swakopmund gesê Beefcor, ‘n entiteit in private besit, het Meatco reeds verbygesteek in beeste wat geslag is. Hy sê met die stigting van Savanna Beef, sal mededinging verder verhoog. Die gevolg is ‘n skerp afname in mark-aandeel, wat weer tot ernstige verliese gelei het. Schlettwein het benadruk Meatco is tans tegnies insolvent met sy skuld wat sy bates oortref het. Hy sê ‘n herwinning uit eie hulpbronne en met huidige strukture in plek is hoogs onwaarskynlik.