Brandstof, whiskey uit Angola bly wesenlike probleem vir Nampol
Die Namibiese polisie het sy hande vol met die smokkelary van brandstof en whiskey uit Angola. Die mag sê hy het deur middel van intelligensie, ‘n klopjag by Cleo Garage op Ondangwa uitgevoer en beslag gelê op verskeie kanne Angolese brandstof, insluitend op ‘n Mazda-sedan wat gelaai was met 11 25-liter kanne vol brandstof. Twee Namibiese mans is gearresteer en net meer as 7 000 Namibiese dollar in kontant, wat die mag sê inkomste is van die verkoop van brandstof, is gekonfiskeer. Die waarde van die brandstof wat gevind is, is op amper 11 000 dollar beraam. By Werda in die Noorde is daar beslag gelê op Angolese whiskey ter waarde van 2 400 dollar, met twee afsonderlike beslagleggings by Mururani, ook whiskey, ter waarde van 26 000 dollar.