Afrika-paspoort of opheffing van visums nodig vir vryhandelsooreenkoms

Die plaaslike ekonoom Salomo Hei, sê ‘n Afrika-paspoort, of die opheffing van visums vir Afrika-lande is een van die belangrikste faktore om die Afrika vryhandelsooreenkoms suksesvol te implementeer. Sy aanmerkings kom na die Internasionale Monetêre Fonds se bevinding dat die ooreenkoms ekonomiese groei aansienlik kan bevorder en lewenstandaarde verbeter in ‘n tyd van stygende geopolitieke spanning en klimaatsverandering. Die fonds sê groter handelsopenheid sal lande help om by klimaatsverandering aan te pas en om voedselsekerheid te versterk omdat dit die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van voedselvoorrade sal verbeter. Hei sê handelsreis moet vergemaklik word.