Daar’s nie geld om plaaslik litium te verwerk nie
Plaaslike media berig dat die Namibiese regering geen planne het om ‘n plaaslike litiumverwerkingsfabriek te vestig nie. Daar is volgens die mynkommissaris Isabella Chirchir, geen geld nie. Dit weerspreek Tom Alweendo, minister van myne en energie, se aankondiging in Februarie dat Namibië op plaaslike verwerking van litium sal aandring. Die vraag na litium het die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet, en Afrika se litiumproduksie sal na verwagting hierdie dekade skerp styg en teen 2030, 497 000 ton genereer. Volgens Chirchir moet buitelandse beleggers so ‘n aanleg vestig. Litium is die afgelope tyd in die nuus met uitvoere deur die Chinese Xinfeng naby Uis wat meer as 75 000 ton bereik het, blykbaar vir toetse maar, hy het sy eie aanleg in China wat litium benut. Die Duitse kansellier Olaf Scholtz het ook onlangs gesê Duitsland wil Namibië bystaan om so ‘n aanleg op te rig maar Chirchir het aan Eagle FM gesê sy dra geen kennis daarvan nie.