GBV: 400 gevalle maandeliks in Kavango Oos aangemeld

Ten spyte van pogings deur verskeie organisasies om geslagsgeweld in die land te bekamp, teken die Kavango Oos-streek steeds hoë gevalle van die misdaad aan. Plaaslike media berig dat die geslagsgeweld-eenheid op Rundu jaarliks 5 000 gevalle aanteken, met ‘n gemiddeld van 400 per maand. ‘n Senior maatskaplike werker by die eenheid, Aurelia Mukundu, het verder bevestig dat die gevalle baie hoër kan wees omdat talle sake nie gerapporteer word nie uit vrees vir viktimisasie of vergelding. Die twee Kavango-streke, saam met Zambezi, is steeds uiters tradisioneel in leefwyse en, as gevolg van trae ontwikkeling, is vlakke van armoede hoog en so ook, drank- en dwelmmisbruik.