Mashare-landbouprojek in sak en as
Plaaslike berigte lui dat die Mashare Landbou-ontwikkelingsinstituut in die Kavango Oos-streek sedert 2017 geen begroting ontvang het nie. Die bestuurder by die instituut, Lukas Mandema sê daar is tans varke, beeste en donkies op die perseel met 50 werkers en terwyl die regering deeglik bewus is van die stand van stake, word daar niks aan gedoen nie. Daar is talle implemente wat deur die landbouministerie afgelaai is en in die son stukkend brand maar, Mandema sê hulle kan dit nie gebruik nie omdat dit te groot is vir die trekkers wat hulle het. Splinternuwe planters en skeurploeë gaar nou stof op. Mandema sê hulle het probeer om die implemente te gebruik maar dit het die trekkers beskadig. Hy sê hulle is nie geraadpleeg voor die aankoop van die toerusting nie. Mashare was gestig om by te dra aan landbou in die streek maar is op die oomblik ‘n wit olifant.