Soedan se weermag stem in vir skietstilstand tydens Eid
Sporadiese bomontploffings is deur die nag nog in Soedan se hoofstad Khartoem gehoor nadat faksies ‘n skietstilstand van drie dae aangekondig het vir die viering van die Moslem-fees Eid al-Fitr. Een mag het gesê hy is gewillig om toe te laat dat lughawens heropen sodat buitelandse burgers ontruim kan word. Reuters berig die Verenigde Nasies, Amerika, Brittanje, Japan, Switserland, Suid-Korea, Swede en Spanje berei voor om hulle personeel te ontruim, na byna ‘n week van geweld. Die Wêreld-gesondheidsorganisasie sê 413 mense is dood en 3 551 gewond vandat gevegte uitgebreek het. Daar is minstens vyf hulpwerkers onder dié wat gesterf het.