Oos-Afrika-presidente op pad na Soedan  

Die Oos-Afrika-streeksgroep, Igad beplan om so gou as moontlik die presidente van drie lidlande na Soedan te stuur as deel van pogings om gevegte tussen strydende groepe in die land te beëindig. Gevegte tussen die weermag en ‘n paramilitêre groep gaan vandag vir ‘n derde dag voort. Volgens berigte is bykans ‘n honderd mense reeds in die gevegte dood, insluitend drie personeellede van die VN se Wêreld-voedselprogram. Igad het tydens ‘n virtuele vergadering van staatshoofde ooreengekom om die presidente van Kenia, Suid-Soedan en Djiboeti na die Soedannese hoofstad, Khartoem te stuur. Dit is egter onduidelik wanneer hulle sal kan vertrek, aangesien die internasionale lughawe in Khartoem weens die gevegte gesluit is.