Tydelike wapenstilstand in Soedan eerbiedig

Die leiers van Soedan se weermag en die paramilitêre groep die Rapid Support Forces, het Sondagaand ná twee dae van gevegte ’n tydelike wapenstilstand van vier uur eerbiedig. Minstens 97 mense is dood en 365 gewond as gevolg van die gevegte wat Saterdag uitgebreek het. Die humanitêre staking van geweld was om gewondes te ontruim, na gevegte op verskeie plekke in die hoofstad, Khartoem. Die vredes- en veiligheidsraad van die Afrika-unie gaan intussen ‘n dringende vergadering hou om die krisis in Soedan te bespreek. Die Arabiese Liga hou ook op versoek van Egipte en Saoedi-Arabië dringende samesprekings.